My verhaal
Foto 1
Van polisieman tot skoolhoof – ‘n verhaal van guns en die waagmoed om te droom
Foto 2
As tiener het ek gedroom om ‘n onderwyser te wees – een wat omgee en ‘n verskil in kinders se lewens maak. Aan die einde van my eerste jaar as onderwysstudent was ek deel van ‘n stranddiensspan en het daarna geroepe gevoel om eerder teologie te studeer. As teologiestudent het ek tydens ‘n skoolverlaterskamp besef dat kinders die rede vir my opstaan in die oggende is.
Daar was nie geld om my onderwysstudies voort te sit nie. My plan was om by die SAP aan te sluit en in die aande klas te draf. Hoe ek dit reggekry het, weet ek tot vandag toe nie (ek was nooit een van daardie outjies wat sommer ‘n span gehaal het nie), maar om een-of-ander rede het ek in die polisie se Nasionale Reaksie Eenheid beland. Vir die volgende klompie jare het ons die vure, wat oral in die land in die vroeë negentigs gebrand het, probeer blus. Die droom om met kinders te werk, was vir eers verlore.
Op ‘n dag êrens aan die Transkei en Lesotho grens het ‘n klein seuntjie skugter nader gekom. Ek het my “rat pack” met hom gedeel. ‘n Vraag het in my binneste wakker geword: “Waarmee is jy besig en wat het van jou droom geword?” Dit het my motiveer om alles te los en sonder enige studiegeld by die Bloemfonteinse Onderwys Kollege aan te meld.
In Februarie 1994 staan ek voor die registrateur van die kollege: “Meneer, ek wil net weet waar meld ek aan?” Hy het net met ‘n glimlag kop geskud en geantwoord: “Jy is nie nou in die army nie. Hier meld ons nie aan nie. Ons doen aansoek en daardie proses is verlede jaar Oktober al afgehandel.” Hy het wel vir my ‘n afspraak met die direkteur van onderwys gemaak – dieselfde kantoor waar ek ‘n paar jaar gelede my onderwysbeurs van die hand gewys het. Met die guns van God en die direkteur se deernis, ontvang ek ‘n voorwaardelike beurs en -toelating tot die kollege.
Ek begin my loopbaan as onderwyser by Hoërskool Hoopstad en word ná vier jaar in die onderwys aangestel as skoolhoof van Laerskool Trompsburg. Vier jaar later word ek as “buiteperd” genooi vir die onderhoud as skoolhoof van Willem Postma Primêre Skool in Bloemfontein. Hier dien ek vir tien jaar as skoolhoof voordat ek genooi word om saam met die gemeenskap van die Vaalharts Skema ‘n onafhanklike skool te stig.
Saam met die gemeenskap van die Skema, het ek die voorreg gehad om ‘n lusernland te omskep in ‘n baken van hoop. ‘n Skool wat aan die einde van 2022 deur die Noord-Kaap Onderwys Departement aangewys is as die beste onafhanklike skool in die provinsie.
Dit bring my by vandag. Foto 2 is geneem op die dag wat ek die formele onderrig verlaat het. Ek bevind my tans voltyds in die bediening. Ek is deel van die bedieningspan van ons gemeente en dien verder as fasiliteerder vir individue, paartjies en groepe wat hulle lewens wil verryk en hul volle potensiaal wil bereik. Fasilitering bied my ook die geleentheid om as mentor op te tree vir leiers wat met integriteit wil lei en ‘n positiewe impak in hul samelewing wil maak.
My Passie
Ek vind aanklank by Willem Postma Primêre Skool se leuse: “Lewe is diens”. Vir my gee dit sin aan die lewe om te kan dien. Ek is nog nooit geïnspireer deur dít wat die wêreld voorhou as sukses of roem nie, maar as ‘n geleentheid hom voordoen om te kan dien en miskien ‘n verskil te kan maak, is ek blink-oog-gereed.
Toe ek die geleentheid gebied is om saam met ander ‘n skool van die grond af te begin en die skoolwapen te ontwerp, was my keuse vir ‘n leuse: “Hoër strewe”. Ons almal ken die geykte “Strewe hoër”. Die grootste gedeelte van die mensdom val vir die ewige gejaag na meer en groter, maar ons almal weet dat dit geen bevrediging en vervulling bring nie. Dit is wanneer jy kies om jouself los te maak van die wêreldse gejaag en vir ‘n Hoër strewe te leef, dat jy werklike vervulling bereik.
Dit bring my by my passie: My passie is om mense te herinner aan hulle waarde én die Goddelike potensiaal in hulle. Ek beskou dit as ‘n eer om saam met ‘n persoon by die mylpaal te kom waar hy of sy selfbeeld verruil vir ‘n Godsbeeld en só die vryheid kan ontdek om net te wees – vry van enige voorgee, vry om te leef en dít met oorgawe en ewige impak.
